13 & 14 AUG - KAAPSTAD

13 & 14 Aug 06
Net toe ek dink die Kaap is van sonlig ontneem, toe breek vanoggend aan – skoon helder en sonder ‘n draad wolkie in die lug. Die wind is stil – ok goed, nie doodstil nie, maar die bome lê net 45 grade skuins. Ek het gisteraand vir Ta Leonie hulle beloof om vandag by Riaan, my neef, te gaan braai – skuins voor Stellenbosch, dus hoop ek die mooi weer gaan hou tot môre sodat ek die berg kan op!
Ons is toe Stellenbosch se kant toe vir die dag en het daar gebraai – Riaan hulle bly daar op so ‘n 11 iets hektaar- plot vir die gewone mense, vir die ander – landgoed. Die uitsig en die opgewing is vreeslik mooi – ek dink nie ek sal ooit met vakansie gaan as ek daar sou bly nie – wat nog te sê van werk toe gaan in die oggend! Nodeloos om te sê – laatmiddag toe raak die luggie koud en die wolkies broei uit daar oor die hoë berge. Is toe met die N1 in terug stad toe – die hele Kaap was blykbaar vir die dag in die Boland in en die hele Boland was in Kaapstad vir die dag, want die pad is besiger as Pofadder se kafee tussen die twee nagmaaldienste!

Ek het die sonsondergang met presies 10 minute gemis op Bloubergstrand – soos ek die pad opkom daar van die N7 se kant af sien ek hoe sak die son in die water in, maar die robots en die mobiele Kapenaars voor my was in ‘n sameswering. Het toe gelukkig ‘n paar mooi skemer fotos van die omgewing gekry – lyk sommer so koud! Is toe daar teen Tafelberg op om ‘n nagfoto of twee te neem van die middestad – die wind is egter baie sterk en so ‘n lastige mis het begin opkom. Ek moet sê, my karavaan het vanaand soos huis gevoel toe ek die deurtjie so agter my toetrek en ‘n rooibos brou!
14 Aug 06


Ek is toe met kortbroek, kamera, sambreel en sandale die stad in – gestop daar langs die Kompanjie Tuine voor die Hooggeregshof – hulle behoort lank te soek na daai advokaat se GP kar wat so lank daar gestaan het! Ek het toe die stad te voet aangedurf en alles gekiek wat te kiek is – die reën het kort – kort so bietjie skiet gegee en dan weer so vaal afgekom, maar dit was eintlik baie lekker om die stad so koes – koes te verken. Alhoewel ek Kaapstad ken, is dit elke keer weer vir my ‘n belewenis om die bekende ou geboue en plekke te sien – van die parlement tot ou Queen Victoria. Wonder altyd wat gesels sy en Oom Jan Smuts so oor die heining saam heeldag? Ek moet sê, soos hy daar sit lyk hy redelik gatvol! Sou ook gewees het as ek soos hy daar voor die parlement moes sit!

Ek is altyd weer getref deur die eenvoud van die Grote Kerk en wonder dan weer wanneer het ons met die majestieuse kerke begin wat al ons dorpe so versier? Wonder dan altyd of die doel van die prag en praal kerke was om die Here te verheerlik of om die rykdom van die gemeente ten toon te stel? Verkies om te glo dat dit eerbied en nie trots was nie.



N ‘n lekker aandete by Annemarie en Jean daar in Belville, is ek nou besig om my goed reg te kry om more vroeg die pad te vat Swellendam toe. Is jammer ek het nie Tafelberg en die Kasteel ingepas nie – maar … nou is dit rede om weer terug te kom!
0 Comments:
Post a Comment
<< Home