21 August 2006

19 & 20 Aug 06 – GEORGE & VICBAAI


19 Aug 06

Dis baie jare gelede wat ek vir die eerste maal met die Suid – Kaap te doen gekry het – letterlik 29 jaar gelede – omtrent hierdie selfde tyd van die jaar – toe ek as ‘n rou troepie Outshoorn toe gestuur is in Sep 77 vir Leieropleiding. Het toe reeds ‘n ontsag ontwikkel vir hierdie deel van die land met sy majestuese berge wat altyd rondom jou is en die toetentaal anderste soort plantegroei wat sy eie reuk en skoonheid gehad het. Die reuk is die eerste wat my laat besef dat ek terug is in die Suid – Kaap, so ‘n kruie tipe bossie reuk, skoon maar sterk! Vanoggend vroeg toe ek wakker word en die reuk kry, toe trek die nostalgie sterk hier aan my - soos moerkoffie op die agterste stoofplaat. Voel soos gister wat ek 29 jaar terug hier deur is, die plekke het verander, ons het verander, maar die berge staan soos lank, lank geleë, en dit saam met die ewigheid van die see, laat mens mooi dink oor jou nietigheid hier op aarde!

Is nie besig met retrospeksie vanoggend nie, maar die mistigheid en die lekkerheid klim sommer so onder jou vel in, dat jy sommer heimweë en vorentoe – alles op een slag voel! Is diep lekker om mens te wees!

Ons het vanoggend vroeg geroer om AO1 Vleis betyds by George se lughawe te kry – hy het gisteraand hier by Anton & Annemarie oorgeslaap en vlieg saam met Kol Deon vanoggend terug Pretoria toe. Is hier met die ou pad George toe en kry toe vir Deon daar by die lughawe. Ons het net eers gou ‘n koffietjie vir die koue nattigheid saam met die twee vlugtelinge geniet voor ons ‘n draai deur George gemaak het en toe Victoria / Vic baai toe is. Ek het Vicbaai die eerste keer gesien toe ons die George (Leer Vrouekollege) se jonge dames Sondae daar gaan hallo sê het – lank, lank, gelede! Die plek het net mooier geword – daar is redelik vloedskade na die onlangse oorstromings, maar oral is mense besig met opruimingswerk. Die see gooi egter nog steeds boomstompe en vullis wat ingespoel het terug op die strand, maar dit neem niks van Vicbaai se bekoring weg nie – daar is so ‘n idiliese mooiheid aan die plekkie!

Vandaar is ons Wildernis se kant toe en het daar ingedraai na die ou George – Knysna pad om by ‘Map of Africa’ uit te kom. Daar hoooog bo die wêreld is die uitsig wonderlik, en jy kyk sommer so tot waar die see opraak! Die wêreld is sopnat en oral syfer die water uit die grond – die grondpaaie is modderig en vol gate, maar die Skerpioen was nou nog nooit juis vol fiemies nie! Daar bo op die koppe is ook die plek waar die ouens met hul Hang Sweeftuie afspring – ek dink dit kan net ‘n vreeslike lekker belewenis wees – veral as die see & strande so klein daaronder lê!

Daarvandaan is ons af na die ou pad George se kant toe. Daardie paadjie kronkel tussen druipende mosbegroeide bome deur en oor twee stokou brggies – 1805 en 1806. Die bome toring hemelhoog oor die pad en ek dink nie die pad word deur enigiemand gebruik wat vinniger as 40 km/h wil ry nie. As jy piekniekplek soek – hier is genoeg! Om elke draai is dit net mooier as die vorige – en as jy stilhou en die enjin afsluit, is dit net die voels en die rivier daar diep onder wat jy hoor – niks verder nie.


Terug in George het ons gou gaan kyk na George se dam. Met die baie reën saam, het die dam mooi vol geloop en van die paadjies het verdwyn – met die gevolg dat ons toe ‘n paadjie af is waar ons toe nie weer kon opkom nie! Na ‘n gemodderde spoeg en spartel, het ons weer so driekwart teen die bultjie opgeworstel, maar toe staan ons waar ons staan. Dankie tog vir selfone!! Anton het gelukkig ‘n maat met ‘n rerige 4x4, en nie te lank nie, toe het hy ons ‘n pluk gegee en ons weer op minder glyerige aarde! Gelukkig het hy ook nog GP nommerplate – as dit ‘n Kapenaar was, sou ons die einde hiervan nie in hierdie lewe gehoor het nie!

Nat en modderig is ons eers huis toe, en gewas en met ‘n koffie agter die blad is ons Mosselbaai toe vir middag/aandete. Die reën het so stewig aangestuif en die sig was beperk. Dit het egter die vis & skyfies daar by die King Fisher restaurant op die Punt met die reën wat so teen die ruite afloop en die see wat wit oor die rotse breek, soveel meer lekkerder gemaak.

Ons het by die huis nog lank staan en walvisse probeer uitkyk uit die see, maar verniet! Net so nou en dan sal ‘n ou grote hier agter die branders sy se stert so entjie uitsteek – hulle noem dit blykbaar ‘sailing’ en dit is wanneer die pestilense sommer net so hang en ontspan! Luie spul! Ek is seker hulle loer ook uit, want die oomblik wanneer ek ingaan of die kamera af is, dan staan hulle behoorlik op hul koppe met die sterte bo die water, maar kyk vir hulle? Dan is hulle op die bodem!

20 Aug 06

Vanoggend saam met Annemarie’hulle na hulle kerk toe – daar onder net agter die antieke winkel by Groot Brak se afdraai. Was lekker, almal ken mekaar en gesels met jou asof hulle jou van Oupa se kant ken! Was ‘n baie mooi diens met snoei en groei kerntema. Deel het gegaan oor gehoorsaamheid – daai deel wat so baie moelik is vir ons, en dit het by bygebly. Die verskonings om nie die regte ding te doen nie – ja, hulle is maklik en baie, maar die gehoorsaamheid?

Na kerk gaan koffie en brandewyn tipsy tert eet daar bo-op Haroldsbaai se koppe. Jislaaik, was daai koek soet! Daarna is ons daar met daai mooi kronkelpaadjie af na die strand. Is vir my so 'n mooi strand met die ou sink en houtstrandhuisies wat so skouers skuur met die luukse paleise so op die strand!. Nie noodwendig privaatheid wat jy het as jy daar bly nie - nie met al die vakansiegangers wat kwalik 3 tree van jou voordeur verbystroom nie! Maar die uitsig en die lekkergeit om daar te bly vergoed definitief! Ernie Els se 3 strandhuise pronk ook indrukwekkend daar op die punt teen die rotse – met so ‘n nederige ou huisie tussen hulle. Ook hier is daar redelik skade agv modderstortings teen die hange en hier en daar kan skade veral aan die nuwe luukse plekke gesien word.

Met so ‘n grondpaadjie is ons teen die westelike koppe op tot bo waar daar ‘n pragtige uitsig op die see, rotse en Haroldsbaai is. Daar rondgeloop en kon nie genoeg van die pragtige uitsig kry nie – mens voel eintlik vol daarvan as jy daar wegry en wil dan nie eers ander plekke sien nie!

Op pad terug het ons by Glentana aangery – daai plek wat so verwoes is met die vloede. Dit is bad – regtig bad! Meeste van die strate is stukkend en onbegaanbaar soos die water die strate eenvoudig in riviere omskep het en die teer saamgevat het. Die woonwapark wat in ‘n vallei was, was blykbaar vroeër eintlik ‘n spruit – well, die natuur het die karavaanpark, die opgeboude paaie, helfte van die teerparkeerterrein en die helfte van die restaurant opgeeis en saamgevat see toe. Op ‘n ander plek het die oorspronklike spruit tussen twee huise helfte van beide huise ssaamgevat. Meeste van die skade lyk asof dit die geval is van die feit dat mense in areas bou wat eintlik vleiland is en dat rivierlope toegemaak en toegebou word. Maar baie van die skade is ook agv modderstortings – veral waar luukse paleise gebou is teen die steiltes. Die natuurlike plantegroei word versteur en dan is daar niks wat die versteurde grond vashou nie. Ek moet sê – ek sal defnitief mooi dink voordat ek ‘n huis langs die kus koop – ek het nou gesien hoe bou daai manne op die sand!




Met die dat ons die middag weg was, het die walvisse ons nie verwag nie, en ons kon darem so ‘n vinnige fototjie kry van ‘n wuiwende stert, maar helaas, niks verder nie!




Môre is dit ek en die Montagupas – hoop die weer hou!

0 Comments:

Post a Comment

<< Home