30 August 2006

29 & 30 Aug 2006 - PLETTENBERGBAAI

Vroegoggend al is die radio op RSG – die tyd van die more kan ek glo dit staan vir Radio Sonder Mense. Ek probeer uit hulle net een, net een, ordentlike weerberig of iets oor die paaie anderkant George uit kry – maar dink jy dit is moontlik? Enigiets van mieliepryse wat hulle probeer befonk, ‘n omgekeerde lorrie in Soutpansweg, RM2 se watervoëls wat iemand met alle mag wil uitmoor doer iewers by die Bon Accord dam, maar van die paaie en reën hier rond? Aikona, niks, zero, zilts!

In die kantoortjie sit die tante styf toegedraai soos ‘n 3- dae oud babatjie – die koue is onbekend – moet ‘n verdwaalde ysberg wees! Nee, sy ken nie die paaie daai kant toe nie, weet net van die N2, die res? Aikona en die rympie. Ek is seker ‘n aankondiging van die feit dat die aarde plat is, sal nie met ongeloof aanvaar word nie!

So deur die nuus saam hoor ek toe dat die N2 nog steeds besig is om homself in twee verskillende vlakke snelweg te verdeel – nie bevorderlik vir die gesondheid nie! – en dat die verkeer deur die SASveld pad beweeg – egter geen groot voertuie of vrag swaarder as 3 ton. Die pad was juis gesluit van agt uur die vorige aand tot die ogg ses uur vir noodonderhoud op die pad – nie juis ‘n beriggie wat jou laat rondspring van opgewondenheid nie, veral as jy ‘n karavaan saamtou (het gou in my kop al die gewigte bymekaar getel en besluit om ontbyt by my te laat verbygaan!)

Om ‘n lang winderige reis kort te maak – so net na 11:00 toe is ek daar by George en soekend na een van die vele patrollies wat die ompaaie sal aandui – maar ek het seker oral gery waar hulle nie was nie. Is toe gou na Johan de Beer, ‘n vriend van my uit Durban se Army tye, om te gaan hallo se. Die eienaar van die maatskappy waar Johan werk vertel hy het die oggend 2 ure getou voor hy deur die SASveld kon gaan – die alternatief van deur die Langkloof met 250 km draai, het by my een oor in en die ander uitgegaan sonder om kant te raak! Het toe die pad by hulle verduidelik gekry en so is ek SASveld toe. Dit is toe al die tyd die ou pad wat ek die anderdag gery het toe ek saam met Anton’hulle na die Kaart van Afrika gaan kyk het. Het daai dag nog so by myself gedink dat dit chaos sal wees as die hele verkeer weer in vandag se tye daardie ou 1906 paadjie moet gebruik – en sowaar! Wys jou – moenie dinges dink nie!

Skaars of ek sleep in agter die rooi ligte voor my, of die hele ketting kom in beweging! Praat van geluk – geen wagtery! Daai pad bly mooi – baie mooi, of jy nou mik om met die karavaan oor die een-kar-breedte-bruggies te kom of in eerste rat by die afdraendes af tou, of aan die regterkant teen die berg skuur omdat die linkerkant sulke barste in het wat lyk asof die pad gouer nog nouer gaan word as wat hy reeds is – dit kronkel en swaai deur daai groen hangende lower, en met die stadig ry is daar meer as genoeg tyd om te kyk. Altegou is ons deur en kronkel ons deur Wildernis en dan op die N2 na Plettenberg. So met die gedraaiery het die dag aangestap en die lug is grou en drupperig. Ek stop nie vir al die mooi plekke wat so by die Skerpioen se ruit verbygly nie, maak net ‘n nota van hulle om te kom sien. By Plettenbergbaai verby skuif ek eers daar by die Keurboomrivier Lagoon Caravan Park in en vra ek wil net eers kyk hoe lyk dit. Ok maar goed ook, ‘n Amerikaanse trailer park se niggie as ek al een gesien het! Moet die reën, wind buigende bome en verlatenheid wees, maar ek is weer by die hek uit sonder om van 3de af te kom 2de toe. So end met die pad af is ek by Aventura in – doller as kop af kan dit nie! Diep mooi en baie netjies – nog met iets sags op die oog by ontvangs ook. Voel sommer lus en kom betaal op dag vir dag stelsel!

Dis nat!! Ek het so ‘n staanplek met min water gesoek waar ek nie ‘n klein roeibootjie nodig het om van die teerpaadjie na my karavaan te kom nie – wat roep hulle daai bootjie – ‘n punter of iets?

Het so voor sononder gaan rondry – wou foto’s neem daar by die Beacon Isle Hotel, maar die reën het my verjaag. Luiheid om self kos te maak het my vergeefs laat soek na ‘n eetplek op Plettenbergbaai, maar met die vlae reën en werk in die hoofstraat, dink ek het ek die enigste oop een verbygegaan. Is toe deur daar na die indraai van Keurboomstrand. Het daar by die Wybo Pub & Grub restaurant gaan eet – Calamari, diep lekker! Nie net was die kos lekker nie, maar daar was so ‘n groot vuur in die hoek en almal het jasse en hoë boots aan – daar is so ‘n nat hond voor die vuur reuk, het sommer diep verlang na Van Tondershoek en die antrasietstofie! Moet die locals van Keurboomstrand wees – as van daai tantes meer vingers gehad het, kon elkeen van hulle ‘n gemiddelde Brooklyn juwelierswinkel ge-oorstock het. En hulle maak ‘n eersteklas Ierse Koffie!

Vanoggend het die dag grou en reënerig gebreek en ek kon die gedreun van die reuse branders al die pad oor die hele lagoon hoor – en dit is wyd! Blykbaar het die kwaai suid-ooster en die gure weer die see hier langs die kus af in beroering gebring – word sommer seesiek as ek net daaraan dink!

Ek is toe daar na Keurboomstrand om ‘n mooi uitsig te hê en te sien hoe die see lyk – en niemand eers om daai pragtige golwe te surf nie! Moet sê – ek sal ook nie – daai golwe was bad!

So deur Plettenberg na Robberg toe – maar met die swak sig het ek nie ingegaan nie – sal bêre vir ‘n sonskyndag, en het die lughawepad gevat daar langs die kus af. Altegou was die teer iets van die verlede en was dit weer ‘n reënvernielde slaggatryke grondpad. Maar dis mooi daar – al daai stampe werd! Pad kronkel so tussen plantasies en op plotte deur om weer by die N2 op pad na Knysna uit te kom.

Is met die afdraai suid na Kranshoek toe – ons was laas daar saam met my Pa’hulle – was nog sulke kannetjies in die laerskool, en het die bruin Vauxhall gery! Die pad kronkel deur daai inheemse natuurlike woude – as jy stilhou moet jy die enjin laat dreun, die bos vreet alle geluide op – jy hoor eintlik die bloed deur jou kleintoontjie sqeeze! Met die water oral is dit mooi – asem wegvat mooi!
Die mistigheid het bietjie gepla by die uitkykpunt, maar die water, die uitsig en sommer die alles het opgemaak daarvoor! Iemand wat nie sommer so oop-oë daar staan en bid en dankie sê vir soveel mooi en dankie dat jy lewe nie – hy, hy is rêrig dood – morsdood!

Die mooi was so baie dat ek daarna teruggekom het en met die terugkom vir Plettenbergbaai bietjie deurgery het. Verstaan hoekom so baie Mô’s & Pô’s van Pretoria hierheen kom vir vakansie (na hulle strôndhuisies hier) – Plet kan net sowel daar agter Waterkloof lê – daar tussen die rif en Monumentpark. Geen verskil – maar hulle kan darem bietjie hulle Engels kom oefen hier – mens sou sweer Beacon Isles is deel van die United Kingdom se Isles!

Hoop dit is ‘n mooi dag môre – wil bietjie die pad vat Knysna toe!

27 & 28 Aug 06 – STEEDS MOSSELBAAI

Ek kan nie glo dat dit al einde Augustus is nie – die wind maand is amper verby! Hierdie jaar het skielik spoed aangesit – ek is al byna ses weke op die pad! Voel soos gister toe ek die ou karavaantjie ewe versigting daar in Pretoria aan die gang gekry het – hy voel nou al amper soos huis!

Vanoggend vroeg toe dreun hier ‘n wind in die bome verby en maak die karavaan so skud dat ek opstaan en seker maak die see is nog waar hy moet wees! So ‘n noord – westelike soort wind – weet nie waar vandaan nie, maar dit het ‘n klompie wolke opgestapel hier oor George se wêreld en ‘n kil luggie laat opstaan. Ek dink daai George en Wildernis mense kry so ‘n diep benoudgeit as die wind – hoe gaan daai liedjie van Sonja Herold nou weer? Iets van … as die wind en die wolke so oor my gaan …. Oj, dis ‘Jantjie’! Nou ja, ek dink as daai wind en wolke so oor hul gaan, dan begin hulle al kyk vir die volgende modderstorting en pas wat hulle moet toemaak en wonder of hulle die erf ondertoe ook moet koop – want dit is waar hul heel moontlik gaan heen afskuif! Die Kaaimanspas was vandag nog steeds/alweer gesluit agv modderstortings.

Is toe weer na daai kerk toe daar by Groot Brak – daai Bikers se kerk - ‘Set Free’. Daai pastoor/dominee mag mooi preek! Daarna die rondte van die stasieperrone gedoen. Eers daar by Groot Brak se stasie gaan koffie drink – die ou oorspronklike stasiegebou is omskep in ‘n restaurant – baie mooi so onder die groot rubberbome – net oorkant daai Glentana eiland. Weet darem nie of ek op daai Glentana eiland sal wil bly nie – so op dieselfde vlak as die Groot Brak lagoon? Is omtrent net die molshope wat hoër as watervlak is! Het oor die bruggie soontoe gery – is baie mooi en defnitief eksklusief, daar is net die een bruggie soontoe en hy is van hout – ‘n kar pas net presies daarop – ‘n effe breë kar se bande sal teen die kante loop. Wonder hoe kry hulle hul meubels daar as hul soontoe trek?

Daarna by die Klein Brak stasie gaan eet – weet klink maar honderig, maar daar is ‘n hele klomp brakke hier op Brakfontein! Daar stasietjie is klein en rêrig baie mooi omskep met die tafeltjies wat buite op die perron en in die ou wagkamertjie staan. Die geboutjie is ook baie mooi gemaak – maar nie verander van die oorspronklike nie – mens kry so ‘n vanmelewe gevoel, so asof die tyd loop stilstaan het – veral so op ‘n Sondag, wagtend op ‘n trein wat nooit kom nie. Daai plek se kos is diep lekker – die krag was af – maar die sjef het kos daar uitgetoor wat vingerleklekker – het seker ‘n gasstoof.

Die res van die middag het ek so windaf teen ’n rots gesit en probeer son kry – die windjie was egter so skraal soos die maer koeie in Farao se droom. Hoor die nuus praat weer van koue en fronte van môre af.

Is my laaste dag op Mosselbaai vandag – ek hou van die plek – is baie Afrikaans – jong, ek raak al meer hoe Afrikaans, ons taal is darem pragtig – ek kry sommer hoendervleis van lekkergeit!!


Het my karavaan ingeruil hier by Tuinroete Karavane vir ‘n nuwer model – nog steeds ‘n oooooue, so ‘n 1990 model – Gypsy Super Sport. Het goeie prys vir myne gekry en dié een is heelwat meer modern. Spring bietjie soos ‘n springhaas agter die Skerpioen, weet nie of die ding ingebreek moet word en of hy maar so maak nie. Gelukkig nie heen en weer soos ‘n man met ‘n lastige brandewyn systappie nie, maar rêrig soos ‘n springhaas. Was dus heeldag besig met papiere en sulke goete – is gelukkig alles in plek. Kon nie die karavaan hier registreer nie – sal op tydelike permitte ry tot ek dit op Van Tondershoek kan registreer.


Is nie so ‘n vinnige en klein werkie om een karavaan oor te laai na ‘n ander nie – ek kan nie dink ek het so ‘n klomp nonsens aangeskaf of bymekaargemaak of ingelaai nie – ek is nog net 6 – 7 weke op die pad! Was nogal hartseer om my ou karavaan daar te los – het so half alleen gelyk daar tussen al daai Kaapse karavane!
Was koud vandag – son, maar winderig en nie lekker nie! Die weer lyk nie juis of dit gaan verbeter nie – die radio praat van reën – en ek wil juis daar deur daai hangende tuine en sakkende paaie deur môre! Sal half vinnig en liggies moet trap!

26 August 2006

26 Augustus 06 – MOSSELBAAI

Heerlik! Ek is 100% oortuig dat meeste van ons Suid – Afrikaners verslaaf is aan ons dosis son per dag! Die laaste paar dae – weke wat dit so chronies bewolk was, is lekker om te ry en al daai goed, maar sonskyn bly tops. Vandag was weer ‘n skoon helder sonskyn dag – het amper verkeerd gevoel dat die dag moes ophou.

Het vandag niks gedoen behalwe om in die son te wees, by die Voogts op Reebok ‘n draai te maak en daai ding wat ek geweet het ek moet nie doen nie – Springbokke gekyk! Aan die ander kant moet ons seker lojaal wees – net baie moeilik as hulle soos paloekas speel. Gelukig het my span – die Haaie – gisteraand gewen teen die WP – mens moet dankbaar wees vir elke klein ietsie in ons rugby, die seëninge daar kom nie in oorvloedige hoeveelhede nie!

O ja, die Dellemijns het gisteraand/ middag laat kom kuier en ons het by die Café Havana hier in die hoofstraat gaan eet – T been, maar lekker! Met so ‘n Bacardi rum en room sous – met bietjie chilli in – ek raak sommer weer honger! Gevoel of ons nie in onse land is nie - moet vreemd wees - die mense loop in die straat - na donker! Defnitief nie Gauteng nie. Die restaurant het so 'n ou - wereldse gevoel - so asof die tyd hier loop stilstaan het. Alhoewel dit nie onnodig warm is nie - het die plek so gevoel asof dit erens in die ewenaar staan in so 'n Spaanse - Indiaan dorpie met die waaiers wat so stadig die warm lug omdolwe. Die soet sigaarrook kom so van binne uitgedryf - ai, hier kan man diep rustig kuier! Is toe net die Mossel van Mosselbaai wat sy moterbaaik by die stop weelie wat mens weer terugbring - reguit in die Suid Kaap in.

Geen stories vandag – gaan net die kans gebruik om ‘n paar mooi fotos op te sit – geniet hulle. Onthou om rond te kyk – die Here het soveel mooi oomblike gemaak – jy kan kyk en kyk, hulle raak nooit op nie – moet net nie afkyk nie, kyk op, dan sal jy hulle sien! Mooi Loop – mis julle almal!

25 August 2006

22 tot 25 Aug 06 - MOSSELBAAI

Die reën het my kans gegee om in vrede my karavaan te pak en op te hak, toe sous dit behoorlik! So met die reën saam is ek stadig – stadig Mosselbaai toe en het myself staangemaak daar in die Punt se karavaanpark – sommer so langs die see! En daar is rotse ook – wat beteken jy kan nie die see onnodig vergeet nie!

Eers gedink ek sal net so ‘n dag of twee hier te staan, maar intussen het die 2 dae 4 geword en ek dink ek gaan hier staan tot volgende week. Vandag – 25 Aug – het die son die eerste keer geskyn en het al die mense hier langs die Suidkus seker ‘n diep sug van verligting gegee – die laaste 4 dae het byna sonder ophou gereen en met die grond wat nog steeds so nat is dat die water aanhoudend uitsypel, is enige druppel wat val besig om groot skade en oorstromings te veroorsaak.

Die 23 ste Aug het ek bietjie museums en Mosselbaai deurgeloop. Het die kar geparkeer en die strate met te voet aangepak – dit is ongelooflik hoe baie mooi ou geboue en interresante plekke hier is, as mens die plek so te voet verken. Die vlooimark – ek dink hulle noem dit iets meer opstairs, maar dit bly maar ‘n ‘Made in China’ vlooimark en is bitter vervelig, maar ek het darem 2 redelike tweedehande boeke daar in die hande gekry. Daarvandaan die Dias museum ontdek met sy geskiedenis gedeelte, skulpmuseum, replika van die Dias skip of karveel asook die ou Poskantoorboom. Dit is baie interresant – veral as jy tyd vat en alles rustig deurgaan. Mense was seker nie haastig in Dias se tyd vir pos nie – blykbaar het ‘n Pedro de Ataide op sy terugreis van die Ooste in 1500 ‘n brief in ‘n skoen onder ‘n Melkhoutboom by die fontein in die baai van Aguada de Sao Bras (later Mosselbaai) gelos. ‘n Jaar later het Joao de Nove (kan jy glo die Hottentotte het nie die brief of die skoen gesteel nie!!!!) die brief daar gekry op sy pad na Indië – wat hom gewaarsku het van probleme in Calcutta. Ek is seker ons huidege poskantoor organisasie volg steeds stewig in die spoor van daai 1ste posstelsel – vat deesdae nog steeds so lank om ‘n brief van punt A na punt B te kry!

Het ‘n foto van ‘n ou kerk in die dorp geneem wat se toringdak met klip gebou is ipv sink of teels. Baie mooi – ek het nog nooit so iets gesien nie. Draai gemaak daar by die hawe ook – Mosselbaai het ‘n stewige vissershawe – een van die groot geldmakers hier is die calamari of tjoka bedryf. Dit is daai vissersbote met die baie ligte op wat soos Krismisbome in die nag lyk – hulle gebruik die boot se skadu om die tjoka te lok.

Is gister hier langs die kus af – daar na Witsand en Jongensfontein se kant toe. Daar was nie juis baie sig om van te praat nie – nie so met die reën en mis wat so bo alles hang nie, maar toe ek die hoogtes hier bo Mosselbaai vat, toe sien ek amper nie die Engen vulstasie langs die pad om diesel in te gooi nie. Gelukkig kon die petroljoggie mooi voel waar om die diesel in te gooi – ok maar net! Ek het ingery daar na Danabaai, maar het weer uitgekom sonder om te weet hoe dit daar lyk – weet daar is mis en nogmaal mis!

Is toe maar verder suid – die mis het suid ‘n bietjie meer gelig. Oral staan die water in die veld – die skape staan almal so reënaf en lyk rerig diep, diep moedeloos vir die reën! Jy kan sommer daai naafie uitdrukking op hul gesigte sien – wonder seker of hulle moet begin swemlesse neem.

Die pad na Vleesbaai het ek maar verbygeggan – jy kan nie van Vleesbaai oorry na Gouritzmond nie – die brug tussen die twee plekke het weggespoel. Is toe daar oor die N2 se Gouritzrivierbrug en het die teerpad see toe gevat. Net voor Gouritzmond het ek afgedraai by al die ‘pad gesluit’ bordjies verby tot by die rivier. Daai brug het rêrig – truly – weggespoel! Daar moes ‘n klompie water met ‘n woeste spoed daar verbygekom het!

Gouritzmond is mooi – nog baie onaangeraak deur al die uitbreidings en paleisagtige vakansiehuise wat die res van die kus so ontsier. Mens kan sien dat visvang al bedryf op die dorpie is – oral staan daar visserskuite in die straat en by huise. Die strand is baie vuil en die see is sjokoladebruin van al die modder, takke en gemors wat die rivier die see ingegooi het en nog steeds ingooi. Vandaar het ek die grondpad langs die see afgevat daar na Witsand toe. Dit is seker een van die mooier natuurpaaie daardie – die wêreld is nog baie natuurlik daar en min van die oorspronklike natuur is verwyder – in teenstelling met die wêreld langs die N2 waar al die natuurlike plantegroei uitgehaal is vir die koring, hawer en canola aanplantings. Is ook die eerste plek waar ek rêrig dekriet sien groei het – sulke plate aanmekaar.

Witsand se rivier is ook redelik besig gewees – die strande daar op Witsand lyk soos wanneer ‘n plantasie afgekap is – bome, takke, stompe, gras en sulke bruin golwe! Die reën het weer sulke vlae uitgesak en ek is oor die brug (gelukkig staan hy nog) na Jongensfontein toe. Dit is baie mooi daar, maar die dorpie het seker toegemaak vir tot die vakansieseisoen weer begin. Ek het saggies gery, was bang ek maak ‘n paar spoke wakker – alles toe en donker! Maar die mooiste karavaanpark – teenaan die see, en die dorpie is netjies en skoon. Ek verbeel my dat dit is hoe die Oostenrykers die plek sal uitlê – skoon en netjies. Vir myself moet dit bietjie meer ontspanne en natuurlik wees – maar dan, ek is nie ‘n Oostenryker nie!

Het gaan koffie drink op Witsand, wou tjips ook hê, maar hulle maak nie iets in olie gaar nie, dankie! Is bly hulle het seker nog nie van decaf koffie gehoor nie – dan was ek seker op die gesondheidskoffie ook!

Daar by die N2 Gouritzrivierbrug het ek afgetrek en diep gewonder of ek daai bungee – jump ding moet gaan doen. Gelukkig was die keuse vir my gemaak – met die reën en wind saam, was daar nie ‘n siel te sien nie, en het ek fotos van die ou en nuwe brug gaan neem. Weet nie of ek daar sal afspring nie – net om onder die nuwe brug te staan en fotos neem, het my al amper die pamperella koors gegee.

Met die terugkom het ek deurgery na Groot en Kleinbrak se kant toe om te gaan kyk hoe lyk dit met die nuutste reën. Daai water stroom sommer so teen die berghange af en dit bring strome modder en klip saam – die paaie lyk soos grondpaaie soos dit toegespoel is. Die water staan enkel en kniediep tussen die laagliggende huise rond – gelukkig het die rivier nog nie opgestoot nie – dit is net die water wat van die hoë dele af spoel wat so opdam – die grond is totaal deurnat. Die lae dele het geen dreinering nie – ek dink nie die laagliggende dele was veronderstel om blyplekke te wees nie – so ook nie teen daai sandhellings wat vir my maar bra wankelrig lyk nie! Het ‘n paar te koop bordjies daar in die water opgemerk – sal hulle maar by maar laat verbygaan – ek is nie van plan om ‘n rysboer te word nie!

Vanoggend toe ek opstaan – toe kom die son so rooi oor die see uit – en miiiin wolke! Gou klere gewas en opgehang – hier moet jy elke stukkie son gebruik – en toe vêr gaan stap.

Die walvisse het die son net so baie geniet en ek het ure op die rotse gesit en probeer om hulle op film te kry. So half en half reggekry – een het so halwe wawiel gedoen en ek het hom so skrams gevang. Jy kan ure regsit om te kliek – maar niks, en net soos jy rustig sit – dan spring hy soos ‘n springhaas! Verder net so windaf in die son soos ‘n dassie gesit – al gewonder of ek in Engeland is.

Het netnou gaan betaal tot volgende Dinsdag – dink ek moet daai rustige vakansie ding vir ‘n ruk doen – hoop die son skyn vir die volgende paar dae!

21 Aug 06 – MONTAGU- & ROBINSONPASSE

Toe die mis so lig – lig vanoggend toe is ek weg hier deur George na die Outeniquaberge toe. OK, nie heeltemaal so vinnig nie, ek het my kar se sleutels gister agter in Anton se kar se kattebak gesit – ja, en daar vergeet, met die gevolg dat Anton vanoggend teruggery het van George af om my mobiliteit te waarborg – is diep dankbaar teenoor hom!

Na al die dinge is ek toe daar berge toe, en het regs voor die pas afgedraai daar op die Montagupas – net voor jy opgaan met die Outeniquapas. Die begin voor jy die rerige pas kry is maar sloterig gespoel en het my gemaak wonder of ek die pas sal kan deur. Maar toe die regte pas begin, was die pad baie goed – net smal! Jy moet mooi meet en pas om twee karre bymekaar te kry – maar sp hier en daar is die pad darem wyer – die verbygaan het nie baie gepla nie – ek het net een bakkie deur die hele pas gekry – gelukkig van agter gekom en ek het by so verwying stilgehou dat hy kan verbygaan. Die pasbouers het daar in 1844 nie juis gereken op voertuie wat baie hoog sal wees in die toekoms nie – daar is ‘n paar van daai oorhangende kranse wat nie baie hoog oopgekap is nie – is redelik vinnig onderdeur. Die natuurskoon is asemrowend en ek het kort – kort sommer so in die pas stilgehou en uitgeklim om oor die klowe en diep valleie te kyk – dit maak mens sommer so kortasem van mooigeit! In die pas kan mens teen die oorkantse hange wit klippe sien wat uitgepak is – blykbaat het ‘n boer van George se wereld eendag gatvol geraak vir die gesukkel met die passe wat nie klaarkom en met ‘n wa en span osse die berge gevat en hy is toe oor – daar waar niemand gedink het iemand kan oor nie!

Die wereld daar in die Klein Karoo is groen en vol veldblomme! Anders as aan die Weskus, staan dit nie plate nie, maar as jy uitklim word jy oorweldig deur die hoeveelheid fyn blommetjies van die mees intense kleure wat ek gesien het. Die wereld het goed reën gekry en is vol reuk van al die vygies en fynbos – so iets tussen anys en boegoe – nog net in die deel van die land daai reuk gekry.

Ek het Outshoorn so deurgezik en nie stilgehou nie – net vinnig aangegaan by die Leër Steunbasis en groetnis gesê. Weereens besef dat ek nie terugverlang Weermag toe nie – mis wel die cammos – is die lekkerste klere om te dra wat daar is, en dan hoef mens nie in die oggend te wonder wat om aan te trek nie!

Die Robinsonpas tussen Outshoorn en Mosselbaai bly een van my geliefkoosde paaie – so anders as die ander passe met sy sagte berge en vêr kyk, maar baie mooi. Tee gedrink by so ‘n regte Engelse Country Hotel – die ‘Eight Bells’ daar aan Mosselbaai se kant van die berge – daar kan mens ‘n Sondag na kerk ‘n laaang kuier uitpak terwyl jy so oor die groen weikampe en perde na die bergpieke en plantasies kyk!

Terug op Tergniet het die walvisse besluit om terug te gaan diepsee toe – blykbaar net vir die naweek kant toe gekom! Ek kan verslaaf raak aan die uitsig daar bo van die Dellemijns se stoep af – die see raak so weg daar wyd in die suide met die groot swaai van die baai daar na Mosselbaai toe – ek sal nooit moeg raak vir daai groot water wat so rustig aanhoudend pols nie – ek is seker dit hipnotiseer my!