25 August 2006

21 Aug 06 – MONTAGU- & ROBINSONPASSE

Toe die mis so lig – lig vanoggend toe is ek weg hier deur George na die Outeniquaberge toe. OK, nie heeltemaal so vinnig nie, ek het my kar se sleutels gister agter in Anton se kar se kattebak gesit – ja, en daar vergeet, met die gevolg dat Anton vanoggend teruggery het van George af om my mobiliteit te waarborg – is diep dankbaar teenoor hom!

Na al die dinge is ek toe daar berge toe, en het regs voor die pas afgedraai daar op die Montagupas – net voor jy opgaan met die Outeniquapas. Die begin voor jy die rerige pas kry is maar sloterig gespoel en het my gemaak wonder of ek die pas sal kan deur. Maar toe die regte pas begin, was die pad baie goed – net smal! Jy moet mooi meet en pas om twee karre bymekaar te kry – maar sp hier en daar is die pad darem wyer – die verbygaan het nie baie gepla nie – ek het net een bakkie deur die hele pas gekry – gelukkig van agter gekom en ek het by so verwying stilgehou dat hy kan verbygaan. Die pasbouers het daar in 1844 nie juis gereken op voertuie wat baie hoog sal wees in die toekoms nie – daar is ‘n paar van daai oorhangende kranse wat nie baie hoog oopgekap is nie – is redelik vinnig onderdeur. Die natuurskoon is asemrowend en ek het kort – kort sommer so in die pas stilgehou en uitgeklim om oor die klowe en diep valleie te kyk – dit maak mens sommer so kortasem van mooigeit! In die pas kan mens teen die oorkantse hange wit klippe sien wat uitgepak is – blykbaat het ‘n boer van George se wereld eendag gatvol geraak vir die gesukkel met die passe wat nie klaarkom en met ‘n wa en span osse die berge gevat en hy is toe oor – daar waar niemand gedink het iemand kan oor nie!

Die wereld daar in die Klein Karoo is groen en vol veldblomme! Anders as aan die Weskus, staan dit nie plate nie, maar as jy uitklim word jy oorweldig deur die hoeveelheid fyn blommetjies van die mees intense kleure wat ek gesien het. Die wereld het goed reën gekry en is vol reuk van al die vygies en fynbos – so iets tussen anys en boegoe – nog net in die deel van die land daai reuk gekry.

Ek het Outshoorn so deurgezik en nie stilgehou nie – net vinnig aangegaan by die Leër Steunbasis en groetnis gesê. Weereens besef dat ek nie terugverlang Weermag toe nie – mis wel die cammos – is die lekkerste klere om te dra wat daar is, en dan hoef mens nie in die oggend te wonder wat om aan te trek nie!

Die Robinsonpas tussen Outshoorn en Mosselbaai bly een van my geliefkoosde paaie – so anders as die ander passe met sy sagte berge en vêr kyk, maar baie mooi. Tee gedrink by so ‘n regte Engelse Country Hotel – die ‘Eight Bells’ daar aan Mosselbaai se kant van die berge – daar kan mens ‘n Sondag na kerk ‘n laaang kuier uitpak terwyl jy so oor die groen weikampe en perde na die bergpieke en plantasies kyk!

Terug op Tergniet het die walvisse besluit om terug te gaan diepsee toe – blykbaar net vir die naweek kant toe gekom! Ek kan verslaaf raak aan die uitsig daar bo van die Dellemijns se stoep af – die see raak so weg daar wyd in die suide met die groot swaai van die baai daar na Mosselbaai toe – ek sal nooit moeg raak vir daai groot water wat so rustig aanhoudend pols nie – ek is seker dit hipnotiseer my!

0 Comments:

Post a Comment

<< Home