01 September 2006

31 Aug 06 – KNYSNA SE WÊRELD

Dis die laaste dag van die winter – more is Lentedag! Hoop julle almal maak ‘n plan met die koue wat nog so om die hoeke skuil – sien hoeka vandag die berge – die Outeniqua en Swartberge – lê wit van die sneeu! Maar ons het vandag ‘n hele dag se son gehad – van opkoms tot ondergaan! Kannie dink wanneer het ek laas daai een gesien het nie – was soos ‘n present.

Noetzie was eerste op my paadjie vandag – en toe sien ek iets op pad soontoe wat ek ook laas saam met die son gesien het – snelstrikke! Sommer een voor Plet en een anderkant ook, net vir die wis en onwis!

Is daar met daai grondpaadjie net voor Knysna af na Noetzie – weet nie wat is die ergste nie – die plakkers wat die pad al omtrent toegebou het, of die pad self nie. Gelukkig kan mens redelik aandag aan die slegte pad gee, want jy kom nie bo 30 km/h sonder om letterlik van die pad af te wip nie! Ry nog so toe doem daai konsentrasiekampdrade met doringdraadrolle, elektriese draad, patrollerende tenks, helikopters met missiele, honde wat kwyl en huil voor my op! Net toe ek gereedmaak om af te swaai in ‘n donga in en my knipmes uit te pluk vir selfverdediging, toe sien ek – jammer, net ‘n luukse landgoed projek! OK, ek het oordryf met ‘n paar van die goed – die pad is nie sooo sleg nie! Is nogal ironies dat die super – rykes hulself so moet verskans, as dit die prys is om ryk te wees, dan bly ek maar liewer ‘n armgat en geniet die vryheid om te lewe! Moet sê, die mense hier langs die kus af met die hoë heinings en dinge is 9 uit die 10 Gautengers – Hoe weet ek? Ek kyk die nommers op die karre!

Daai Noetzie is mooi! En diep styl daar af en nog styller op! Ek het ‘n week se oefening agter die blad met daai op & af. Dit moet vreeslik lekker wees om daar te bly – daai afgesonderdheid en wonderlike natuurskoon! Dit moet wees soos om ‘n stukkie hemel op aarde te hê – hoop daai ouens wat daar plekke het waardeer dit! As hulle dit nie waardeer nie, gee vir my, ek sal dit defnislis waardeer. Het ook gaan kyk daar by Lindsey se kasteel – so klip kasteel teen daai agtergrond is darem ongelooflik!

Knysna is lekker. Sommer net lekker. Van midde – Afrika houtsneewerk, midde – Afrika houtsneewerk, midde – Afrika houtsneewerk, pepperduur surfklere, boutiques tot midde – Afrika houtsneewerk. Eintlik is ek bietjie sarkasties, maar ek wens die mense wil tog iets meer ordentliks en oorspronklik kry as al die gedroogte menskoppe en gorrillapote wat hulle al die stalletjies mee volmaak! En nie eers iets daarvan kom van Suid Afrika af nie! Whau – en is daar antieke meubel winkels! Van elke grootte en soort! Ek dink toe daaraan dat as dit rêrig oudhede is,was die Kaap destyds defnitief oorbevolk en het niemand meer antieke meubels in hulle se huise nie – dit staan alles in Knysna se winkels! Maar rêrig – Knysna is lekker. Die dorp is besig en vol. Dit is mense – locals en toeriste, pickpockets en kopers, bankiesittende - roomysvretendes, sypaadjie koffiedrinkers, sommer alles deurmekaar. Daarvandaan na die waterfront – wat is ‘n dorp tog sonder ‘n waterfront? Daar is ferries, trips na die Heads (nie toilets nie), restaurante en nog surferwinkels! Hoekom is die klere gemiddeld 130% duurder hier as Durban? In elk geval – daar’s ‘n restaurant – 34 degrees South – hy maak lekker kos. Oesters – mens moet dit hier eet – en al daai mooi dinge.

So is ek op daarbo op die bult om die ingang of die ‘Heads’ van bo te sien, en so is ek af om dit van onder te sien, en dit bly mooi. Ek het net weer besef – ek is diep bly ek hoef nie elke dag by daai opening in en uit na die oop see te vaar nie! Eintlik is ek die diepste bly ek hoef nie op die oop see te gaan nie! Die gebrek aan aanwysingbordjies onder om die paadjie daar langs die rotse tot voor aan te dui, is teleurstellend – ook nie onnodig intelligensie wat daar rondhang om pad te beduie nie!

Volgende afdraai was daar by die Goukamma na Buffelsbaai. Daai Goukamma natuurreservaat is totaal ongerep en baie mooi – ek het nie besef dat dit so ‘n groot reservaat daar langs die kus is nie. Die hele aarde hierlangs is weer fynbos – maar meer die strandfynbos tipe. Baie vissermanne ook – hulle is so vasgegroei daar op die rotse, maar lyk nie juis soos fynbos nie. Dit is defnitief die moeite werd om daai pad in en weer uit te ry – net om daai reuke te kry en daai mooi sandduine en strate tussen die duine te sien.

Siende dat daar nog son oor is, is ek toe net buite Knysna met die Garden of Eden / Prince Alfred Pass die binneland in, in die rigting van Uniondale om dan aan te sluit by die pad deur Ouhoogte daar van Keurbooms se kant af. Het my amper misgis met die tyd saam! Mens ry daai pad ook nie baie vinniger as 40 km/h nie! Dis mooi, maar die pad het baie seergekry met die reën. Die oppervlakte is vol gate, by draaie is die pad baie weggekalwe en bome het oor die pad geval. Daar is volskaalse opruimingswerk besig, maar die pad is nat en moeilik. Maar alles die moeite werd – as mens die kans kry om daai pad daar in daai inheemse woude in te vat, moet jy dit doen – daai gevoel wat jy kry as jy daar stilhou en daai eeue-oue bome sien, daai digte bosse, klowe – dit is onbeskryflik! Het daar by King George se boom en ‘n ander groot boom stilgehou, loop kyk, en toe so in die woudpaadjies geloop. Het so aan Daleen Matthee se Kringe in die Bos gedink toe ek daar geloop het. Daai klam, koel stilte wat so met jou praat – as jou kop nie mooi stil is nie, gaan jy sukkel daar!

Daai hele pas is pragtig so in die woude – en dan skielik is jy aan die ander kant van die berge en die wêreld lyk heeltemal anders! Jy kyk tot daar waar die ander bergreekse opgefrommel lê, die wêreld is weer protea en fynbos en jy kan sien! Daai bos is mooi, maar ai, ek is van die Hoëveld, en ek hou tog so van sien!


Laat middag is ek so met die laaste strale van die son terug hier by Keurbooms – moeg en vol gemooi.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home